Cycle to Ceres (and Beyond)

(Contributed by )

There is no better way to get rid of frustration than pedaling up some passes in the Boland. Turn a ordinary weekend into an unforgettable adventure. Read about my experience that took me through Wellington, Tulbach, Ceres, Prince Alfred Hamlet and the Bain’s Kloof Pass.

Price: Food only
Length: 3 days
Distance cycled: 300km
More photos: ‘n Fotoblik

My Experience:

Ek het een Dondermiddag besluit om die sneeu in Ceres te gaan kyk. As ek nie só van al my negatiewe energie ontslae geraak het nie, sou ek sweerlik iets doen waaroor ek later spyt sou wees. Die resultaat is toe ‘n onvergeetlike ervaring van 300km deur die Boland.

Dag 1

My nederige dog pragrige kampterrein in Tulbach se Gemeenskaplike Tuin.

Ek vertrek om 08:15 uit Kuilsrivier, en is na 2 uur en 15 minute in Wellington vir middagete. Later sou ek uitvind dat een van my vriende agter my gery het op ‘n stadium. Hy het my ‘n “mal etter” genoem, en daar is sekerlik dae wat dit nie ver van die waarheid is nie. Tot ‘n entjie ná Wellington het ek lekker gery, maar die pad se skouer verdwyn toe. Met al die vragmotors wat daardie stuk pad tot op Gouda gebruik kon ek dit nie waag op die teer nie. Soos ek later vir een van my ma se vriendinne vertel het (ek het haar langs die pad gekry): “Ek skud my moer los op hierdie rotse langs die pad”. Die padwerker krap ook al die gemors tot net langs die pad, en hierdie stuk van my roete was ongetwyfeld ‘n laagtepunt.

Hier kan mens die growwe klippe sien waarop ek moes kou tussen Wellington en Gouda.

Net na 15:00 stop ek in Tulbach, met bene wat gaarder is as ‘n stadsmeisie se steak.

Ek gesels toe met die vriendelike eienaar en winkelassistent van die Shell-vulstasie. Hulle weet nie van ‘n kampterrein nie, maar verskaf darem aan my ‘n “spare-rib pie”, twee Wonderbars, ‘n groot pak Chips en ‘n sak nartjies.

Ek sal eendag na daardie geweste trek bloot vir die goedkoop en heerlike sitrus wat oral te kry is. ‘n Groot sak soet nartjies het my maar R5 gekos.

Die inligtingskantoor is nie ver daarvandaan nie, en ek klop daar aan. Hulle wil eers vir my ‘n plek ‘n paar kilo’s buite die dorp aanbeveel, maar Tulbach sit in ‘n gat en ek verseker hulle dat ek nie verder kan ry nie.

Die dames by die inligtingsburo verwys my toe na Jayson, ‘n Ingelsman wat werk by die Cape Dutch Quarters in die hoofstraat. Hy beskou homself seker as ‘n belangrike man, want hy verwys my toe na die Gemeenskaplike Tuine met die woorde: “If anyone asks what you’re doing, tell them Jayson said you could stay the night.”

Dag 2

Bo-op Mitchell’s Pas.

Ek stap die oggend deur Tulbach se rustige, pragtige straat met al die ou geboue, onderweg na die Spar om ontbyt te koop. Die afslaan van die kamp het langer as verwag geduur, met die gevolg dat ek eers 09:00 uit die dorp ry, nadat ek my ablusies by die Shell-garage voltooi het. Soos reeds genoem is die dorp in ‘n gat, en ek word begroet deur ‘n vriendelike bult. Bo-op die bult word ek deur ‘n sterk wind geteister, en dit sou duur totdat ek die onderpunt van Mitchell’s Pas bereik. Daar was ook padwerke wat dinge verder versuur het, maar toe ek drie jong seuns sien draf langs die pad, het ek weer nuwe krag gekry (húlle het egter wind-af gehardloop).

Die pas is nie vreeslik lank nie, maar dit is nogal steil. Ek was verbaas om ‘n vriendelike drawwer op pad boontoe te kry, en soos meeste mense van daardie wêreld vertel hy my heel eerste hoe koud dit word. Ek dink die mense daar is baie trots op hul koue. Nie te ver van die bopunt nie is ‘n restaurant, en ek klop daar aan op soek na gereedskap om een van my raam se los moere vas te draai. Die vriendelike dame kon my toe darem help, maar ek was skaars 15 meter buite die inrit toe ek besef dat om verder te ry nie ‘n opsie is nie. Die 200m wat ek daar tot bo die ergste bult gestoot het, was my enigste fietsstoot van die drie dae.

By die karavaanpark vind ek uit dat die besprekingsbeampte weg is vir middagete, en ek gaan koop toe vir my ‘n koerant by die Spar, wat ek rustig in die parkie deurlees van voor tot agter. Die park is besonder mooi en ek het ‘n paar foto’s ook geneem.

Ceres se parkie, waar ek lekker ontspan het.

Terug by die karavaanpark vertel die dame aan diens my dat ek R400 sou moes opdok vir een aand se verblyf, waarvan ek R290 “oor ‘n paar weke” sou terugkry as ek nie geraas het nie. Ek is toe redelik moedeloos daar weg, en besluit om na die gholfbaan te ry. Ek het eintlik gesoek na ‘n plek om my tent op die gholfbaan op te slaan, maar ek sien toe die baanbestuurder en vertel hom van my planne. “Daar sal te veel mense ontevrede wees as jy hier slaap, en hier is buitendien sekuriteitswagte wat jou sal pla,” lig hy my in. Ek val toe terug op my laaste opsie: bel vir Lourens Bester, een van my vriende wat ek ontmoet het deur Boland Gholf. Hy probeer toe eers vir my ‘n blyplek in Ceres reël, maar op die ou end het ek toe die 10km na Price Alfred Hamlet deurgery en daar aangeklop.

Daar het ek heerlik gekuier, die rugby gekyk en ‘n lekker bord kos geniet. Ek kry nou nog die tannie jammer dat ek met twee dae se sweet haar huis kom besoedel het. Die oom, wat die plaaslike predikant is, ry ook baie fiets, en na ek met hom oor my roete gepraat het, besluit ek om oor die Bainskloofpas na Kuilsrivier terug te ry. Ek wou op ‘n stadium na Worcester gery het om die trein terug te neem, maar gelukkig het ek toe onderneem om die saak enduit te voer. My tannie op Worcester bied toe aan om my die volgende oggend by die afdraai te ontmoet vir verversings, maar omdat ek geen idee gehad het hoe laat ek daar sou wees nie, het ek dit van die hand gewys. Na ons The Code gefliek het, het ek maar gaan inkruip vir die aand.

Dag 3

Dacre se preekstoel.

Om stiptelik 08:00 val ek in die pad, en voor 09:00 was ek aan die onderkant van Mitchell’s Pas. Dit het die vorige aand gereën, en die mis het my soms laat wonder oor my sigbaarheid. Ek was toe baie bly oor die helder sigbande wat my oom aan my gegee het.

Sondagoggend was mistig op Mitchell’s Pas. Hier kan mens my praktiese waterbottelopset sien.

Daar is min dinge mooier as om deur Bainskloof op ‘n mistige oggend met jou fiets te ry. Die klim na bo is ver, maar gelukkig nie te steil nie. Op pad boontoe het ek weereens ‘n vriendelike drawwer gekry om my weer moed te laat skep. Daar is altyd iemand maller as jyself, maak nie saak waar jy is nie!

Ek het maar stadig tot bo gevorder, maar die rit na onder was ook baie spesiaal. Mens bereik nogal ongelooflike snelhede op só ‘n steil afdraand, maar gelukkig was my remme in werkende toestand. Soos ‘n wafferse Moto-GP-ryer het ek die draaie ingelê, en gelukkig het ek veilig tot onder gekom. Die ysige wind wat op my statiese bene gewaai het, het dit egter goed gevries, en my knieë het amper so hard soos my droë ketting gekraak toe ek weer moes begin trap. Ek het om 12:50 uit Wellington vertrek, en het presies drie ure gery tot by die huis, waar my ma en suster, wat verjaar het, my ingewag het.

 

Map:

 

Experienced from 15 – 17 June 2012

VN:F [1.9.22_1171]
Please rate this activity:
Rating: 4.3/5 (3 votes cast)
Cycle to Ceres (and Beyond), 4.3 out of 5 based on 3 ratings
  • Arnoldus

    Dankie vir die inspirasie. Kan nie wag vir my eerste fiets trippie nie.