Roadtrip Special: Garden Route, Wild Coast, Lesotho, Route 62

(Contributed by , )

Die diversiteit van Suid-Afrika is ‘n besienswaardigheid vir plaaslike inwoners sowel as toeriste. Vier studente het van die Kaap af Ooswaarts getoer en die plekke, mense en kulture van die ganse land te ervaar op ‘n aksiebelaaide, maar steeds bekostigbare wyse.

Prys: R2751.75 p.p
Lengte: 11 dae
Bestuur tyd: 63 uur 42 minute
Afstand: 4260 km
Groep-grootte: 2 Suid-Afrikaners, 2 Duitsers

 

Spring na:
Interaktiewe kaart
Reis log boek
Koste uiteensetting

Voorwoord

Die doel van hierdie verslag is om die nie-tegniese inligting aan enige belangstellendes bekend te maak, asook om die toerlede se geheue te verfris as hul herinneringe oor ‘n paar jaar vervaag.

Golden Gate Nasionale Park

Deur die loop van die verslag mag daar verskillende style waargeneem word, tesame met ‘n mengelmoes van die historiese-, teenwoordige- en toekomstige-tyd. Dít word toegeskryf aan: veranderende gemoedstoestande, veranderende milieus, sommige wat meer literêre muse bied as ander ‘n sekere apatiese benadering jeens die eenvormigheid van die skryfstel, meegebring deur fisieke uitputting, slaaptekorte en ‘n gebrek aan genoeg tyd om behoorlik daaraan aandag te skenk.

Hou asseblief in gedagte dat meeste van die inhoud neergepen is terwyl daar op Suid-Afrikaanse paaie (buite die Wes-Kaap) gery is – enige spelfoute, swak taalgebruik of onsamehangende sinne is ‘n direkte gevolg hiervan.

Mag hierdie verslag as aansporing dien vir enigeen om sy/haar avonturier-uitrusting af te stof en die wondere van ons diverse land self te ervaar. Daar is nog genoeg goedheid in Suid-Afrikaners om enige probleem, groot of klein, te omseil en ‘n sukses daarvan te maak.

Dinsdag 6 Desember

Hugo kry vir Jaco in Kuilsrivier op pad terug van Makro waar hy noodsaaklikhede soos opblaasmatrasse, kampstoeltjies en ‘n Waboba-bal aangeskaf het. Hul ry na Franschoek waar Nina en Micha hul gaan ontmoet. Op die Minnaars se werf word die aangewese vervoermiddel, ‘n 1994 VW Jetta II, deeglik skoongemaak en die hoofbagasiestukke in die kattebak gelaai. Later arriveer die twee Duitse dames en ‘n vlugtige eerste kennismaking met Jaco vind plaas. Dit is spoedig vir hom duidelik dat hy feitlik geen gesprek tussen enige van sy reisgenote sal kan volg nie – ‘n vreemde dog aanloklike vooruitsig.

Kosvoorraad word by die Pick&Pay aangeskaf, waarna daar met die terugkoms ‘n aandete van vark voorberei word. Die res van die aand verloop rustig, met Hugo wat bagasiereëlings tref en Jaco wat vir Stephanie bystaan met ‘n rekenkundige analise.

Op hierdie stadium is die reisplan steeds vaag, alhoewel die eerste stop vir die volgende dag reeds geïdentifiseer is: Knysna. Daar word reën voorspel wat moontlik ‘n stok in die wiel van ons Tuinroete-bedrywighede kan steek. In daardie geval mag daar dalk sommer tot in Jeffreysbaai gery word.

Woensdag 7 Desember

Nature’s Valley – 534km, 06h29

Douvoordag word daar opgestaan met die oog daarop om net na 05:00 te vertrek. Die bagasie word gelaai en die motor vir oulaas ondersoek. Daar is geen ooglopende probleme nie, net ‘n bietjie olie en verkoelmiddel wat toegevoeg word. Ds Minnaar en sy vrou neem afskeid en bid vir ons veiligheid op die tog wat ons voorlê.

Nina sit lekker terwyl Hugo moet roei

Hugo vertoon goed agter die stuur, ten spyte van die min slaap wat hy die vorige nag gehad het. Daar kan gesê word dat hy op sy gemak was, soveel so dat ons by Botrivier besef dat ons Kaap toe ry in pleks van Knysna. Hierdie insident het hom nie in die minste ontsenu nie: by Heidelberg kon ‘n leë brandstoftenk hom nie eens van die pad dwing nie. Die uitdaging was egter vir Jaco (die navigator) te groot en na ‘n vriendelike versoek stop ons by die vulstasie. Later sou dit ook blyk dat Hugo van plan was om Lesotho binne te gaan sonder ‘n paspoort. Sy pa het daarvan te hore gekom en dringend geeis dat die korrekte wetlike prosedure gevolg moet word. Die paspoort is daarna met ‘n koerierdiens na Jeffrysbaai gestuur.

Tot dusver het die agterste passasiers hul verlore slaap ingehaal en daarmee onwetend voorberei vir die middag se aktiwiteit: ‘n roei-en-voetslaan uitstappie na die Touwrivier se waterval. By Wildernis is daar by Eden Adventures aangeklop en twee kayakke gehuur. In ‘n beelskone woud-agtergrond het twee pare spane wat in volmaakte harmonie (of dalk nie) deur die water beweeg ons ‘n paar kilometer rivier-op geneem. Later is die watervervoer verruil vir ‘n voetpad, waar mens deurentyd bewus was dat nie veel ander plekke mens nader aan die kern van Natuur kan bring nie.

Die sierlike 180° bollemakiese

Die vorige week se reën het vir ‘n aanskoulike waterval gesorg, sowel as ‘n poel wat diep genoeg is om risiko-vrye spronge daarin toe te laat. Van ongeveer 7m het Hugo ‘n sierlike 180° bollemakiese uitgevoer. Middagete is op die klippe genuttig, gevolg deur nog waterpret. Met die inkomende gery is daar teruggeroei na die beginpunt waar almal droë klere aangtetrek het.

By Plettenbergbaai het ‘n hele paar verdwaalde matrieks steeds die afloop van hul skoolloopbaan op die gebruiklike metode gevier: afstootlik vir enigeen in ‘n nugter toestand om te aanskou. Hier het ons op Nature’s Valley as eindpunt vir die dag besluit.

Daar gekom is kamp vinnig opgeslaan en die potte uitgehaal vir aandete: andanté pasta met ‘n Weense kaassous.

Met ‘n verbasende gemaklike gelatenheid het die meisies die intieme slaapopset aanvaar. Die reën wat al die hele dag dreig begin liggies uitsak. Ons gaan slaap vroeg – Nina word om 22:30 deur haar ma wakker gebel.

Donderdag 8 Desember

Jeffreysbaai – 169km, 02h22

Nina se wekker is gestel vir 06:00. Dit was van beperkte waarde: om 04:00 gaan Micha se alarm af, en word 15 minute later deur Hugo s’n opgevolg. (Dit was nog nie gedeaktiveer van die vorige oggend nie.) Die 06:00 alarm is 6 of 7 keer gesnooze; ‘n loeiende sirene met 9-minuut intervalle van stilte. Die sekondêre wekker, wat om 07:30 van hom laat hoor, word summier in die bek geruk. Alarm nommer 3 dreun om 08:00 die realiteit in ons in, waarna die eerste voete dit buite in die motreën waag. Die beplande ontbyt word omvergewerp deur die reën wat met meer mening op ons toesak, en word in die kar genuttig.

Bungeeeee.. 5 sekondes later... eeee. Dit was vinnig

Met ons aankoms by die Bloukransbrug het die reën weer bedaar tot ‘n baie klam mistigheid. Jaco en Hugo stap sonder huiwering na die betaaltoonbank, terwyl Nina met onsekerheid die situasie bepeins. Micha se hoogtevrees is van só ‘n aard dat sy ‘n reksprong nie eens oorweeg nie. Beide van hulle besluit om die springers na die brug te vergesel. Nadat die manne hul spronge sonder negatiewe nagevolge voltooi het besluit Nina om ook die afgrond te waag. (Die teenwoordigheid van ander Duitsers in die springgroep was dalk ook ‘n bepalende faktor.)

Volgens die personeel is die vertikale sprongafstand 196m, en neem die vryval ongeveer 5 sekondes. Nina is besorg oor die stremming op haar rug en sy word met ‘n spesiale gespe na benede laat val.

‘n Vreemde teleurstelling hang in die lug na só ‘n hoë-adrenalien ervaring.

By die BigTree word daar gestop vir middagete en die neem van ‘n paar foto’s in die wondermooie woud.

Hierna is die dames vol afwagting vir die volgende haltpunt – die Billabong fabriekswinkel op Jeffreysbaai. Hulle is in hul element toe hulle oplaas die rakke en rakke vol jeugklerasie kan betree. Hugo se BTK-vriendin, Jeanré du Plessis, en haar suster, Lize, ontmoet ons ook hier. Hul aangename geselskap maak die wag aansienlik korter. Die Duitsers smaak na ‘n lafenis na hul uitputtende winskoopjagtery; ons volg die Du Plessis-susters na Café Kima waar die koekvertoonkas deeglik ondersoek word.

Die "primitiewe" kampeerders kombuis

Op Jeanré se aanbeveling word verblyf gesoek by African Perfections se Surfpackers… en ‘n interessante oplossing gevind: tent word opgeslaan in die agterplaas. Ons het ‘n gemeenskaplike kombuis en leefarea tot ons beskikking, uitgerus met alles-en-nog-wat. Hugo en Jaco is verantwoordelik vir die aand se kos bestaande uit pasta en maalvleis. Tydens die bereiding van die gereg heers daar ‘n multi-kulturele atmosfeer met ‘n paar Franse dames en 2 Duitse here wat ook in kombuis doenig is.

‘n Laataand strandlangse wandeling onder ‘n bewolke nagruim dien as goeie afronding vir nog ‘n suksesvolle dag.

Vrydag 9 Desember

Chintsa – 504km, 07h33

Die uitgerekte ontwakingsproses van gister word herhaal met die mildelike gebruik van Nina se snooze-knoppie. (Op hierdie stadium is haar ander knoppies nog nie gedruk nie.) Jaco beëindig die treurige affêre deur die wind uit die matrasse te haal in ‘n poging om dit in die ander toerlede se seile te plaas. Ontbyt en die oppak word rustig voltooi waarna daar afgesit word na die poskantoor om Hugo se paspoort te gaan haal.

Summerstrand

Ons eerste stop vir die dag is in PE. Die bestuurder en sy navigator probeer hul onkunde verbloem deur rond te ry as of hul op pad is na ‘n besienswaardigheid, alhoewel hul eintlik koersloos deur die strate swerf. Uiteneindelik word daar by Summerstrand gestop om by die Shark Pier ‘n mooi uitsig oor die Indiese Oseaan te geniet. Lipton se reklameveldtog verskaf ons van gratis ystee sowel as die kans om pryse los te slaan. Micha se hand-oogkoördinasie bring haar ‘n geel opblaas-strandbal in die sak.

Van daar besoek ons die Volkswagen AutoPavilion in Uitenhage. Hugo ontmoet sy meganiese naamgenoot – ‘n kombi wat al byna so baie soos hy gereis het. Dit is duidelik ‘n groot dag vir Hugo om uiteindelik sy rolmodel te ontmoet; sy toeter blêr van blydskap. Soos verwag vind die dames die uitstalling nie juis boeiend nie en ons vertoef nie lank tussen Das Auto nie.

Hugo by sy Kombi-naamgenoot

Net voor Grahamstad word ons die derde keer van die dag by ‘n padblokkade gestop. Blykbaar is daar ‘n landswye poging om dronk matrieks van die pad te hou: elke bloubaadjie wil by ons weet of ons ook skoolverlaters is.

Tussen die dorp se Jakarandas is die Rhodes-kampus heel aangenaam om te aanskou. Die afronding steek egter af teenoor die US-kampus. Ons is agter skedule en ry verder in die verslegtende weer.

By ‘n Xhosa-vrou se pynappelstalletjie soek Nina soos ‘n wafferse kenner vir ons die “perfect pineappel” uit. Sy ruik aan die vrug se bodem om die kwaliteit daarvan te bepaal.

Die kilometers rol verby en later is ons ook deur Buffalo City. Die Xhosa-hutte is so ver as wat die oog kan sien – tog bederf dit nie die estetiese waarde van die landskap soos mens sal verwag nie.

Op pad na Chintsa neem ons te vroeg ‘n afdraai. Jaco jinx die roete deur te sê dat dit “jammer sal wees indien só ‘n slegte pad verniet gery word”. Later haal ons ‘n Toyota Aurus in wat ook versigtig in die moddergrond aankruie. Die pad word naderhand te sleg vir gewone voeruie om daarop te ry en noodgedwonge word daar gestop. ‘n Matrieklaaitie van Gauteng klim uit die Aurus (waarin hy alleen ry) en sê dat hy op soek is na kampplek. As hy nie so verskrik gelyk het nie sou mens kon sweer is hy is besope.

Ons eerste indruk van Chintsa

Met moeite is ons later weer terug op die N2 waarvandaan ons veilig tot by Buccaneers Backpackers ry. Ons sien nie kans om in die gietende reën tent op te slaan nie en kry vir ons ‘n “dorm”, wat ons onder andere moet deel met ‘n vet, joviale Kanadees en ‘n Duitser wat heeltemal te ingenome met homself lyk.

Ons is te laat om aandete in die pub te eet en die noodvoorraad 2-minuut noodles word eers op ‘n Duistse metode [mislukking] en daarna op ‘n Suid-Afrikaanse metode voorberei. Die aand word afgesluit met ‘n drankie in die kroeg, die bywoning van ‘n tromvertoning en die speel van ‘n vreemde Duitse speletjie.

Saterdag 10 Desember

Koffiebaai – 264km, 04h14

Ons toergids met Nina en Micha in die agtergrond

Weereens is ons nie vroeg uit die vere nie – maar ons lê lekker met die wete dat ons eers om 10:00 vir ons bergfietsuitstappie hoef aan te meld. Ons Duitse kamermaat, Patrick, het ook sy naam opgesit; saam met T… , ons gids, is ons dus 6 wat die Transkei-bulte op twee wiele gaan aanpak. Daar word later vertrek as verwag, onder andere weens die feit dat ons eers ander skoene moes gaan aantrek op die gids se bevel. ‘n Bussie neem ons tot naby ‘n Xhosa nedersetting, Ngxingxolo, vanwaar ons ‘n kronkelroete volg terug tot by Buccaneers.

Na ‘n kort entjie se ry is ons in die middel van die dorpie, waar sommige van die plaaslike inwoners (veral die jongeres) ons vriendelik groet, terwyl ander jou met ‘n strak en stuurse uitdrukking aanstaar. By Mama Tofu klim stop ons om met een van die mees bekende Xhosas (op 92-jarige ouderdom) in die gebied te gesels. Daar vertel sy ons van die tradisies en gebruike van haar kultuur, en brei sy uit op die inisiasiepraktyke van hul jong meisies en seuns. Sy praat ook baie van liefde en die “korrekte” benadering tot die onderwerp, soos bv. om altyd eers die Vier Belangrike Vrae aan jou geliefde te rig voor jy soene ens. toelaat:

Wie is jou clan?
Wat is jou naam?
Het jy ‘n werk?
Het jy my lief?

Nina en Micha word diep geraak deur Mama Tofu se waarskuwings teen onrein seksuele praktyke en praat verskeie kere later in die dag daaroor. Jaco en Hugo vermoed Mama Tofu weet dalk meer as wat sy voorgee.

Terug op die fietse bied die afdraande lekker geleenthede om spoed op te bou. Hugo loop egter sy speke styf terwyl hy oor ‘n drif ry en die gevolg is ‘n pap wiel. Dit word gou-gou herstel met die gereedskap in die gids se rugsak. Van daar verloop die res van die 26km roete sonder enige ander terugslae.

Die fietse word naby die swembad-area gestoor en ons sit sommer daar aan vir ‘n pizza. Die jafel aan diens is ongelukkig ‘n groentjie en die kos neem baie lank om te arriveer. Dit was seker te verwagte, aangesien ‘n baie ontspanne en tydsame atmosfeer in die hele area heers. Nietemin is dit lekker en plaas dit verlore energie in ons bene terug.

Voor ons na Koffiebaai vertrek maak ons tyd vir ‘n strandwandeling.

Sonsondergang op pad na Koffiebaai

Sodra die N2 verlaat word, verswak die kwaliteit van die paaie geweldig. Dit raak donker net voor ons die slegste deel van die pad bereik, en selfs al het ons nie lank gelede ‘n 216m reksprong as ‘n antiklimaks ervaar, was die 70km stuk pad nogal angswekkend. Na 20:00 arriveer ons in ‘n stikdonker Koffiebaai en ry tot by die Coffee Shack Backpackers. Die kragonderbreking daar beteken ons moet meer op gevoel as sig staatmaak om ons tent in die reën op te slaan. Gelukkig is dié proses al goed geolie.

Met alles reg vir die aand geniet ons ‘n verwelkomingsdrankie in die kroeg, wat volgens die plaaslike wetgewing slegs met die linkerhand hanteer mag word. Almal is moeg en teen 22:30 is die tent (en slaapsakke) van binne toegerits.

Sondag 11 Desember

Koffiebaai – 0km, 00h00

Deel 1 (Deur Michaela Meier)

Deel 2

Vir die eerste maal sedert ons toer se aanvangs sien ons ‘n blou, wolklose lugruim in die oggend. Jaco en Hugo stap saam met ‘n plaaslike brakkie om die baai te verken.

Koffiebaai en blou lug

By die tent word voorbereidings getref vir ‘n stapuitstappie na Hole-in-the-Wall. Dit blyk ‘n gewilde tog te wees aangesien 30 van die Coffee Shack inwoners om 10:30 daarvoor aanmeld. Ons plankmaer gids lyk as of hy onder die invloed van iets is, maar hy het heelwat kennis oor die gebied en die mense – “SUPER DUPER”.

Die roete is ‘n versameling van bulte en afdraande, en daar is heelwat ruspouses in die 3-uur lange uitstappie. By die eindpunt wag gebraaide toebroodjies op die stappers, maar voor daar behoorlik gesluk kan word sak die reën weer hard uit. Daar word gehardloop na die omgeboude Kia-lorrietjie wat ons moet terugneem, maar dit moet in twee sarsies gedoen word. Ons kry nie plek op die eerste rit nie en gaan wag by die Hole-in-the-Wall Hotel se swembadkroeg. Hugo en Jaco besluit om te gaan swem – natter kon hulle nie word nie. Soos ons later sou uitvind is die pad na Koffiebaai baie sleg, en daarom wag ons amper ‘n anderhalfuur vir ons rygeleentheid om op te daag.

By die Coffee Shack aangekom het die reën bedaar en die aand word verder rustig spandeer. Daar is ‘n gratis tradisionele Xhosa-potjie vir aandete wat almal geniet.

Maandag 12 Desember

Durban – 567km, 08h58

Voor die einde van die dag wil ons in Durban wees – nogal ‘n hele entjie. Die grootste uitdaging van die dag is om wakker te bly op die pad – dis nou vir Hugo en Jaco; die Duitsers slaap eintlik onstellend baie.

Victoria Street Market

Voor ons Durban binnegaan besoek ons die Hare Krishna (Sri Sri Radhanath) tempel. Ons skoene word by die ingang uitgetrek en ‘n vriendelike kêrel gee ons ‘n oorsig van die geskiedenis van die beweging. Na dit eet ons middagete in ‘n nabygeleë parkie.

Hiervandaan gaan ons na die Victoria Street Market met sy malende skares. Net buite die parkeerterrein het ons ‘n noue ontkoming – Hugo draai per abuis voor ‘n Tazz in. Ons vergaap ons aan die sakke vol speserye wat oral staan. Dit is ook die Mecca van nagemaakte selfone in die land.

Nina en Micha bestel ‘n kitskosete by ‘n kafee wat sekerlik nog nooit besoek gehad het van ‘n gesondheidsinspekteur nie. Jaco koop ‘n mielie wat ‘n vrou sommer tussen die voetgangers in ‘n swartsak gaarmaak.

Durban se nie so indrukwekkende strand

Ons stop langs die strand en loop ‘n bietjie daar rond – maar die weer is nie lekker strandweer nie. By die hawe kyk ons hoe ‘n enorme vragskip die see invaar.

Anstey’s Backpackers bied ons slaapplek vir die aand. Die dame in beheer is nors en bevorder glad nie die beeld van die land se backpacker’s nie. Om uit die ongemaklike atmosfeer te ontsnap gaan stap ons weer strandlangs. Hugo se poging om ‘n kortpad deur ‘n woongebied te vind veroorsaak dat hy amper as misdadiger geskiet word.

Later die aand (20:00) gaan swem Jaco en Hugo by die munisipale plaspoele.

Dinsdag 13 Desember

Bergville – 286km, 03h47

Nog ‘n rustige dag lê voor – ons wil ry tot naby die Drakensberge sodat ons die volgende dag dit kan klim. Buite Pietermaritzburg tref ons etlike kilometers se lorries aan, waarskynlik van Johannesburg na Durban onderweg, wat teen ‘n slakkepas die bulte op én af ry.

Amphiteater Backpackers kampeerterrein

Ons neem ‘n alternatiewe roete om die N3 se tolhekke vry te spring, en ry onder andere deur Rosetta, waar ons op ingewing van die oomblik by Chocolate Heaven stop. Die vriendelike vroulike sjokolateur vertel ons van haar asemrowende skeppings uit Belgiese sjokolade. Ons neem ‘n gediversifiseerde versameling daarvan na die proesaal: biltong, kerrie, cashewneut, aarbei, klapper, kaneel, amandel om ‘n paar te noem.

By Bergville se Spar doen ons kosaankope en ry daarna nog 20km tot by Amphitheater Backpackers, ‘n veelbekroonde oornagplek met ‘n 4-ster gradering. Hier tref ons ongelukkig ook ‘n suur ontvangsdame aan – en besef waar die ander ster verlore geraak het: dit kamparea het ‘n ongelooflike uitsig, en die oord is baie goed toegerus. Hugo en Jaco speel swembadkrieket met ‘n Waboba-bal voor ‘n aandete bestaande uit spek, eiers en vla.

Later die aand klim ons in die Jacuzzi wat in die kroeg is. Tydens die reisbeplanning laat weet die dames dat hul weier om Orania binne te gaan.

Voor ons gaan slip het ons die voorreg om na ‘n weerligvertoning te kyk wat in die verte afspeel.

Woensdag 14 Desember

Golden Gate – 202km, 04h38

Oppad na Mont Aux-Sources dwing ‘n ompad ons deur ‘n agterbuurt se agterstrate, met die gevolg dat ons verdwaal en êrens tussen QuaQua en Puthatitjaba besluit om Nina se iPhone in te span om ons te verlos. Ons maak sommer die brandstoftenk daar vol en ry tot by die Royal Natal & Rugged Glen in die uKhahlamba Drakensberg Park – die beginpunt van ons poging om Mont-aux-Sources te klim. Die grondpad tot bo is kar-vriendelik nie; die passasiers moes selfs op ‘n punt uitklim sodat die onderstel nie vernietig word nie.

Die gevreesde kettingleer

Buiten Hugo sukkel die groepie om te akklimatiseer so hoog bo die see, en die eerste paar honderd meter gaan gepaard met ‘n geblaas weens kortasemheid. Met ‘n ongelooflike uitsig stap ons tot by die kettinglere waarmee ‘n steil krans uitgeklim moet word. Micha sien nie daarvoor kans nie, en Nina bly agter om haar te ondersteun terwyl Jaco en Hugo na bo klim. Daar neem hulle ‘n paar foto’s en uit bedagsaamheid keer hulle terug na die meisies.

Ons stap ‘n entjie terug om ‘n alternatiewe roete te volg wat deur ‘n kloof loop. ‘n Digte mis oorweldig ons, en later begin dit ook verskriklik te reën. Om veilig te wees word daar teruggekeer na die beginpunt, waar droë klere aangetrek word.

Ons ry verder en gaan die Golden Gate Nasionale Park binne. By die Basotho Cultural Village drink ons tee.

By een van die passe stop ons by ‘n uitkykpunt langs ‘n Mercedes met ‘n Duiste nommerplaat.

By die Park se kampplek, Glen Reenen Rest Camp, span ons wasgoeddrade om die nat klere van die oggend uit te droog. Vir die eerste maal maak ons ook ‘n vuur en sit die res van die aand daarom.

Donderdag 15 Desember

Uitsig vanuit ons tent

Semonkong – 321km, 06h32

Toe ons die oggend uitry word ons tot stilstand gewuif deur ‘n vriendelike personeellid: Jaco het van sy klere en badkamersakkie op die dak vergeet.

Ons stop in Clarens en besoek van die winkeltjies daar. Nina en Micha eet tuisgemaakte roomys, Hugo ‘n Tinkie en Jaco koop ‘n koerant. Vandag is ook Hugo se broer se verjaarsdag.

By die Maseru grenspos waar die tou darem nie te lank is nie word die paspoorte geskandeer aan die Suid-Afrikaanse kant. In Lesotho word die name bloot in ‘n enorme boek geskryf. By die Fruit en Veg koop ons brood en ander voorrade. Hugo som die prentjie op: “Ons [wit mense] staan uit soos net sulke moerse puisies op ‘n baba se boud.”

Met net ‘n paar vae padaanwysings slaan ons koers in na Malealea Lodge. Die bordjies wat aandui dat ons op die Maloti-roete is, het nie toé aan ons ‘n belangrike feit deurgegee nie…

"Hugo, ek dink ons het verdwaal"

Ons volg maar die grondpad, pas vir pas, en stop later by ‘n groep motorfietsryers om te bevestig dat ons op die regte pad is, aangesien ons berekeninge aangetoon het dat ons reeds daar moes wees. Hul sê toe dat hul nog nooit van Malealea gehoor het nie, en dat hulle op pad is na ‘n ander blyplek by Semonkong. Ons sien nie kans om terug te draai nie en besluit om maar op dieselfde pad aan te hou ry.

Ver van koers af maar definitief die moeite werd

Die pad is baie nou en dit is moeilik om die aankomende verkeer te sien. Ons het selfs op ‘n stadium in modder vasgesit nadat Hugo uit die pad moes kom vir ‘n lorrie.

Na nog ‘n hele paar kilometers kom ons by Semonkong aan, en die hoeveelheid wit mense tref ons onverwags. ‘n Vriendelike dame in ‘n Terios begelei ons tot by die Semonkong Lodge, waar ons op ‘n sopnat kampterrein onsself vestig. Die motorfietsryers wat ons vroeër ontmoet het kamp langs ons. Kaartspel in die gemeenskaplike kombuis hou ons vir die aand besig. Dit is die eerste aand waarop Hugo sy elektriese toestelle kan gebruik; ‘n laaang verlengdraad gee ons lig in die tent.

Vrydag 16 Desember

Semonkong – 0km, 00h00

Nina by die redelike hoë waterval

Om 08:00 meld ons aan vir ‘n daglange ponierit, waar ons onder andere die Maletsunyane Waterval gaan besoek – die hoogste enkelvallende waterval in Suider Afrika (192m). Jaco se perd trek die hele dag lank swaar, letterlik en figuurlik. Dit is beslis die beste manier om Lesotho se skoonheid en rustigheid te bewonder.

Daar was nog nie tyd vir die leesboeke wat almal saamgebring het nie, en daarom word die middagsessie daaraan gewy.

Ons ondersteun die plaaslike restaurant vir aandete, waar daar Corn Fritters, Beef Wellington, Stuffed Chicken en kaasborde bestel word. Na ete bly sit ons in die restaurant en speel kaart.

Later daardie aand word die tweede bottel shampoo deur Hugo verloor.

Saterdag 17 Desember

Graaff-Reinet – 667km, 11h05

(Deur Hugo Minnaar)

Om 03:45 gaan Nina se LeBombo-alarm af en Jaco blaas altwee matrasse af, bietjie oorgretig aangesien hy eintlik vir die tweede alarm moes wag. Dit het egter net gehelp en ‘n uur later durf Hugo die gevreesde bult aan met sy veronderstelde passasiers wat te voet agterna kom. Met almal terug in die kar vorder ons teen ‘n indrukwekkende 40km/h tot by Maseru, dus 3 ure se ry.

Hugo saam met die "spesialis"

By Maseru Bridge, wat Jaco verwar het met ‘n besienswaardigheid, word die Jetta toe ‘n besienswaardigheid met wit rookwolke wat by die enjinkap uitborrel. Wonder bo wonder vind die insident by die ingang van ‘n petrolstasie plaas. Inderhaas word die motor tot by een van die parkeerplekke gestoot. Water spuit orals uit en ‘n paar bedagsame Basotho’s staan nader om te help. Die een gooi ‘n emmer water oor die radiator uit terwyl die ander kyk. Later word ‘n “spesialis” ingeroep – met ‘n stuk glas en ‘n stukkie draad bewapen. Hy sny drade met die glas en probeer om die radiator se fan met die draad te bypass. Na ‘n hele tyd se gesukkel, waaronder die “spesialis” sy sigaret op ‘n stadium verkeerdom in sy mond gedruk het, besluit ons om die fan direk na die battery te koppel. Dit beteken ons moet elke keer as ons stop dit met die hand ontkoppel.

Die laaste aand van styf slaap

Na ‘n lang gewag in ‘n tipe verkeersknoop om oor die grens te kom, dring ‘n Suid-Afrikaanse polisieman daarop aan dat ons paspoorte in Lesotho gestempel moet word, alhoewel niemand anders dit gedoen het nie. Gelukkig het Jaco ‘n klaarblyklike verkleurmannetjie-voorkoms: hy laat beide sy en Hugo se paspoorte stempel terwyl laasgenoemde solank die voertuig parkeer.

(Vervolg deur Jaco du Plessis)

Op die pad tref ons 4 padwerkstoppe aan. Die afwesigheid van lugreëling in die versengende hitte rek elke bykomende kilometer verder uit. Colesberg se UltraCity (en die roomys daar) is ‘n oase soos min. Daarna neem Jaco die stuur en ry tot in Graaff-Reinet waar ons by die Urquhart kampeerterrein oornag.

Sondag 18 Desember

Franschoek – 746km, 07h46

Almal is gretig om by die huis te kom.  Daar is egter op Route 62 besluit sodat Micha ook ‘n draai by Ronnie se wêreldbekende Sex Shop kan maak (die ander toerlede was al voorheen daar).

Interaktiewe Kaart

Klik op een van die ikone vir meer besonderhede.

Sien SquirrelRoadtrip op ‘n groter kaart

Reis log boek

DagDatumOornag opKilometersBestuurtydKilometers (kumulatief)Bestuurtyd (kumulatief)
12011-12-07Nature’s Valley53406:29:0053406:29:00
22011-12-08Jeffrey’s Bay16902:22:0070308:51:00
32011-12-09Chintsa50407:33:00120716:24:00
42011-12-10Coffee Bay26404:14:00147120:38:00
52011-12-11Coffee Bay000:00:00147120:38:00
62011-12-12Durban56708:58:00203829:36:00
72011-12-13Bergville28603:47:00232433:23:00
82011-12-14Golden Gate20204:38:00252638:01:00
92011-12-15Semonkong32106:32:00284744:33:00
102011-12-16Semonkong000:00:00284744:33:00
112011-12-17Graaff-Reinet66711:05:00351455:38:00
122011-12-18Franschoek74607:46:00426063:24:00

Koste uiteensetting
Alles is saam gekoop en voor betaal, dus geld alle pryse vir vier persone.

DatumBegunstigdeBeskrywingBedrag
Kos
2011-12-05Pick ‘n Pay2-minutes, melkR 110.10
2011-12-06Pick ‘n Pay1ste dag padkosR 70.00
2011-12-08Sparpasta, broodR 91.80
2011-12-09KafeepynappelR 10.00
2011-12-10Sparalgemene voorraadR 116.72
2011-12-12Sparalgemene voorraadR 101.19
2011-12-13Sparalgemene voorraadR 157.63
2011-12-14Kafeehot chocolateR 20.00
2011-12-14Golden GateteeR 50.00
2011-12-14Sparalgemene voorraadR 104.29
2011-12-15Fruit and Vegbrood en vrugteR 81.43
2011-12-17Sparalgemene voorraadR 157.31
  
R1 070.47
Motor
2011-12-08TolhekTsitsikammaR 35.00
2011-12-15TolhekmaseruR 30.00
2011-12-17Basothofan koppelingR 50.00
   R 115.00
Petrol   
2011-12-07EngenHeidelbergR 502.80
2011-12-09BPPER 477.31
2011-12-10EngenbutterworthR 420.96
2011-12-12TotalumzinkuluR 438.95
2011-12-14TotalQwa qwaR 496.00
2011-12-17TotallesothoR 447.15
2011-12-18TotalColesbergR 474.55
2011-12-18CaltexR22 olie GraaffR 522.00
  
R3 779.72
Sosiaal   
2011-12-07EdenkayakR 160.00
2011-12-08BigtreestapR 48.00
2011-12-09Auto pavillionmusuemR 20.00
2011-12-10BuccaneersfietsryR 600.00
2011-12-11Coffee shack backpackershole in wall stapR 240.00
2011-12-14SentinelstapR 240.00
2011-12-16Sebokengponie ryR1 000.00
  
R2 308.00
Verblyf   
2011-12-08Natures valleyKampR 395.00
2011-12-09Surfpackers j-bayKampR 280.00
2011-12-10BuccaneersDormR 520.00
2011-12-11Coffee shack backpackersKamp x2R 580.00
2011-12-12Durban bacpackersDormR 480.00
2011-12-13Amphitheatre backpackersKampR 300.00
2011-12-14Golden gateKampR 379.00
2011-12-16SemokengKamp x2R 640.00
2011-12-18Urquhart parkKampR 160.00
  
R3 734.00
  TotaalR11 007.19
  Per persoonR2 751.80

 

Ervaar van 6 Desember 2011 tot 18 Desember 2011

VN:F [1.9.22_1171]
Please rate this activity:
Rating: 5.0/5 (6 votes cast)
Roadtrip Special: Garden Route, Wild Coast, Lesotho, Route 62, 5.0 out of 5 based on 6 ratings